| die Uitverkiesing :Website Builder |
| Troos of Vertwyfeling...? :Luister na die Woord :die Uitverkiesing geskied in Jesus Christus :Wie is 'Ons in Hom' ? :Uitverkies voor die grondlegging van die wêreld :Uitverkies om heilig en sonder gebrek te wees :Voorbeskik tot kinders van God :die Troos van die Uitverkiesing :die Verkiesing van Judas Iskariot :die Pynlike ervaring van Jesus :Het God vir Judas bestem tot verraaier? :Wat van Johannes 17:12 ? :En wat van Romeine 9 ? :Wat is die probleem waarop in Romeine 9 geantwoord word? :Waarom is Israel dan verwerp? :'n Beeld van die Uitverkiesing |
| Uitverkies om heilig en sonder gebrek te wees |
|
Uitverkies Om Heilig En Sonder Gebrek Te Wees God het nie mense verkies vanweë enige goedheid of voortreflikheid in die mens nie; nie op grond van ons heiligheid of onberispelikheid nie, maar Hy verkies mense wat onheilig en berispelik is tot heiligheid en onberispelikheid. Wanneer ons verkies word, om heilig en sonder gebrek te wees, dan beteken dit juis dat ons dit voorheen nie was nie. Ons word nie verkies omdat ons heilig was nie, maar om heilig te wees. Daarom is die uitverkiesing so ergerlik vir ons morele denke. Ons reken dat God mense moet verkies omdat hulle sulke goeie mense is, omdat hulle so mooi lewe. In die Evangelie egter, staan ons voor die feit dat die Here Jesus die tollenaars en sondaars lief het en Hom nie besig hou met die hoogmoedige mense wat hulle so "gesond" ag dat hulle die "Geneesheer" nie nodig het nie Matthéüs 9:12 ). Jesus verkies die sondaars en Hy "verwerp" die mense wat, soos Fariseërs en Skrifgeleerdes, in hulle eie oë so sedelik hoogstaande is dat hulle die Verlosser nie nodig het nie. Daarom sê Hy: "Voorwaar, Ek sê vir julle, die tollenaars en die hoere gaan julle voor in die Koninkryk van God" Matthéüs 21:31). Dit gebeur omdat hulle as sondaars wel Christus aanvaar en in Hom glo, terwyl die Fariseërs en Skrifgeleerdes as die sogenaamd goeie mense Hom verwerp. Ons word dus nie verkies omdat ons goeie mense is nie, maar God verkies sondaars om heilig en sonder gebrek te wees. Daarom maak die leer van die uitverkiesing dat alle roem uitgesluit is, ( Romeine 3:27 ), en aan die anderkant dat ons nooit sorgeloos kan wees oor hoedat ons as uitverkorenes lewe nie. Die uitverkorenes kan dus nie 'n lewenshouding aanneem van "doen maar wat jy wil, en sondig maar soos jy wil, jy sal tog salig word" nie. Nee, die uitverkiesing maak u juis daarvan bewus dat u sondaar is, en nou as kind van God nie anders kan as om heilig en sonder gebrek voor Hom te wil lewe nie. "Daarom, as iemand in Christus is, is hy 'n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword." ( 2 Korinthiërs 5:17 ). Hierdie leer kweek dus nie 'n verwaandheid, selftevredenheid en hoogmoed by diegene wat uitverkore is nie, maar 'n lewenshouding van 'n nederige en ootmoedige strewe om onberispelik voor God te wandel. As iemand dus in sonde lewe en wil voorgee dat hy uitverkies is, bedrieg hy homself! Aan die anderkant word ons ook hierdeur geleer dat ons nie uitverkies word omdat God ons geloof vooruit gesien het, of ons heiligheid en onberispelikheid vooruit gesien het nie. Ons word alleen uitverkies vir sover ons in Christus is, want Hy is ons geregtigheid en heiligmaking en verlossing ( 1 Korinthiërs 1:30 ). Omdat die doel van die uitverkiesing hier gestel word, nl. om heilig en sonder gebrek te wees, leer dit ons ook dat daar alleen 'n uitverkiesing tot saligheid is, en geen uitverkiesing tot 'n lewe in sonde en uiteindelike verderwing nie. Mense gaan alleen verlore vanweë die sonde en ongehoorsaamheid aan God. En mense sondig weens ongehoorsaamheid teen God, nie omdat hulle daartoe verkies of bestem is nie. In Spreuke 16:4 lees ons: "Alles het die Here gemaak vir sy doel, ja ook die goddelose vir die dag van onheil." M.a.w. mense word nie as sodanig vir die oordeel bestem nie, maar die mens wat goddeloos lewe, kan hom nie onttrek van die gevolge wat God aan 'n goddelose lewe verbind het nie, nl. die onheil. In 1 Petrus 2:7-8 lees ons ook dat Christus 'n steen van aanstoot en 'n rots van struikeling word vir die wat hulle daarteen stamp, "omdat hulle aan die Woord ongehoorsaam is, waarvoor hulle ook bestem is." Die ongelowiges is nie daartoe bestem om ongehoorsaam te wees aan die Woord nie; maar as hulle ongehoorsaam is, dan is hulle daartoe bestem dat Christus vir hulle 'n val word in plaas van 'n opstanding. Daar is alleen 'n uitverkiesing om heilig en sonder gebrek te wees en nie om onheilig en berispelik te wees nie. Dit kom ook nog duideliker na vore wanneer ons daarop let dat ons teks verder sê: "deurdat Hy ons voorbeskik het om ons as Sy kinders vir Homself aan te neem deur Jesus Christus" ( vers 5 ).
|
| Laaste keer geredigeer: 2008 / Geplaas: 31 Maart 2017 |
